Skip to Content

Die moeder van ’n gemeente én ’n dorp is ’n kerk

  frankerkboek-m

Laas week het ons gelees oor die NG Kerk Somerset-Wes, dit wil sê die Historiese Kerk in Kerkstraat, Somerset-Wes. Daar waar o.a. Onze Jan begrawe lê. Hierdie keer kyk ons nie na die huidige situasie nie, maar na die agtergrond van die statige ou gebou, in die dae toe die oorspronklike gemeente nog daar na die Woord geluister het en hulle lofsange teen daardie einste dikke mure weergalm het.

Volgens die gedokumenteerde geskiedenis van die Kerk is dit die 13de oudste gemeente in Suid-Afrika en is die gebou op 13 Februarie 1820 ingewy, met die bekende dominee Meent Borcherds van Stellenbosch aan die stuur.

Dit is interessant dat die rekords aandui dat daar geswoeg moes word om die nuwe gemeente tot stand te bring en dat die inisiatief vir die oprigting van die gebou deur boere geneem is.

Mense wat my artikels oor Pniël gelees het sal onthou dat ook daardie gemeente hulp van boere ontvang het. In hierdie geval was dit drie Morkels en ’n Theunissen. Daar is eerstens versoek dat 20 morg vir die kerk uitgesit word. Grond is gekoop van DG Steijn, eienaar an die plaas Coetzenburg. Borcherds het toe as konsulent opgetree totdat Johannes Spyker aangestel is in 1823, met James Edgar wat van 1830 tot 1848 diens gedoen het as predikant.

Aangesien goedkeuring vir die voorgestelde kerklike amptenare - dit was destyds die gebruik, verbeel jou dat dit vandag so gedoen word – op 10 Augustus 1819 deur lord Charles Somerset verskaf is, is dit die amptelike stigtingsdatum van die Somerset-Wes ge-meente. JF Reitz was die derde predikant (1848 – 1890).

In 1820 is Pieter Gerhard My-burgh gedoop en Hercules Morkel en Gertruida de Vos was in daardie jaar ook die eerste persone wie se name as egpaar in die huweliksregister verskyn het.

Sodanige inskrywings kan ook meesal in die Kaapse Argiefbewaarplek in groot registers via Binnelandse Sake geraadpleeg word, maar geboorteregisters is vir 100 jaar geslote. Net ná 1900 is die kerkgebou opgeknap en in 1910 weer ingewy. Die opknapping het behels dat ’n nuwe plankvloer en voorportaal bygevoeg is, asook gerieflike banke – iets wat altyd ’n kwessie is, want sitvlakke raak mos dunner soos minute omtik.

Nie dat dit van die omies te veel afsit nie: mens ou sweer dis al waar hulle destyds ’n uiltjie kon knip. Gelukkig vir die dominees se ego's is daar darem nou televisie en rusbanke daarvóór.

’n Mooi versierde staalplafon en gasligte het die atmosfeer destyds verebeter. Belangrik ook is dat die erediens in 1933 vir die eerste keer in Afrikaans gehou, terwyl die Strand in 1912 as selfstandige gemeente afgestig het. ’n Silwer doopbak is deur Hendrik Cloete geskenk, al  in 1818, en 1912 kry die kerk sy derde orrel en ’n nuwe preekstoel. In 1952 stig Gordonsbaai af as volwaardige ge-meente. Die vierde predikant was PJ Pienaar – van 1891 tot 1936.

AGE van Velden het hom opgevolg en was teen 1969  die laaste herder wat daar die  tuig neergelê  het. In 1958 is die nuwe kerksaal ingewy. Al hierdie mylpale is egter nie sonder probleme bereik nie – só is die kerk en pastorie in 1819 deur swaar reënstorms beskadig. Die voorste gewel het minstens twee maal ineengestort.

Soos laas week vermeld is daar steeds ’n aantal persone wat met moeite en onkoste probeer om gereelde herstelwerk te laat aanbring, soos die dreineringsloot rondom die gebou om water van die fondamente weg te keer.

En dis geen geringe taak nie, want hierdie gebou is oor minder as 'n dekade reeds twee eeue oud - en staan op rivierklippe in ’n moerasagtige gebied.

Reeds in 1940 is die tweede gebou opgerig, nadat dié een te klein geraak het. Die moedergemeente, wat inderdaad destyds die kern gevorm het vir die ontstaan van die dorp, word dus nou onderhou deur die Maatskappy vir die Bewaring van die Historiese NG Kerk, Somerset-Wes. Hulle hoofdoelstelling is bewaring en instandhouding. En hulle het hulp nodig, soos ook baie ander bewaringsinstansies.

Diegene wat ’n bydrae wil maak word aangemoedig om Mnr JP du Plessis by 021 852 5345 (na-ure) te  skakel.

Written by Francois Verster You are reading Die moeder van ’n gemeente én ’n dorp is ’n kerk articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 12 guests online