Skip to Content

Markötter spring daaruit sy graf ...

Lifestyle Section - History

  historyMAY22-m

ToeTukkies Maties onlangs 'n verpletterende loesing toegedien het, was dit groot nuus en hoewel dit nie 'n unieke geval was nie, is daar altyd die verwagting dat Maties behoort te wen. En so ook die Bokke. Maar waar kom hierdie hoë verwagtinge vandaan? Dalk moet mens eers vra: van waar die groot passie vir rugby?

Ingewikkelde vrae het gewoonlik meer as een antwoord – 'n konglomeraat van allerlei fasette wat saam 'n antwoord bied. Kyk mens na krieket en hoe gewild dit in Indië is, is daar dalk 'n antwoord: krieket pas Indiërs fisies beter as bv. rugby, so hulle kan dit goed speel.

Rugby pas die eilandmanne van "Down Under" weer goed, daarom gáán hulle daarvoor. Ons ook. En as iets jou pas, is jy suksesvol daarmee – en dit dien as verdere motivering, en so rol die balletjie redes mooi saamgemodderkoek verder en word al groter, en soos die gesegde lui: "'n wenkultuur word geskep", of "wen word 'n gewoonte."

Verder glo ek dat juis ons vroeë sukses teen ons destydse aartsvyande, die Britte, van meet af 'n geloof in ons laat posvat het dat rugby "ons spel" is. Selfde met die Indiërs teen hulle voormalige koloniale heersers. Ironies dan dat Gary Kirsten beide die Indiërs en die Proteas berei het tot wêreldkampioene in toetskrieket.

Maar al die vergelykings daar gelaat. Ons rugby het in die Kaap begin en hier was 'n handjievol groot geeste wat invloedryk in die beginjare was. Almal weet van Dok Danie Craven. En daar was sy voorganger "Oubaas Mark" Markötter. Sowat tien jaar gelede loop ek 'n boek raak wat deur Craven geskryf is.

Craven het die boek getiteld Oubaas Mark oor August Fredrick Markötter in 1960 gepubliseer en hy skryf voorin dat hy sodoende wil vertel wat Markotter "vir voetbal in ons land gedoen het".

Craven het natuurlik etlike boeke oor rugby geskryf – en daar is ook oor Craven geskryf, soos deur wyle prof. Bun Booyens – maar hierdie boek van 204 bladsye is nogal raar. Dit val my nogal op dat Craven sy tyd vooruit was insake die gebruik van die term "genie" in sport.

Vandag word verskeie vorme van genialiteit erken, insluitend fisieke vermoëns, so as jy bv. nie matriek Wiskunde kon slaag nie, maar soos Naas Botha kan pale toe skop, is jy dalk ook 'n genie. En Craven hét Naas 'n genie genoem (al sukkel hy steeds nog met sy Engelse kommentaar) en hy het ook vir Oubaas Mark 'n genie genoem: "Hierdie man het nie nes gewone mense opgetree en gehandel nie.

Van 'n genie verwag 'n mens dit ook nie," skryf hy. En dan gee hy talle getuienisse van mense wat met die ou korrelkop te doen gehad het. Craven sê Markotter het 'n "Bismarck-houding" gehad, wat as arrogant beskou kan word, maar omdat hy so invloedryk was het hy daarmee weggekom – "I have kicked many a boy into the Springbok side" – hoewel hy vandag sekerlik in die tronk sou beland: crimen injuria en aanranding.

Hy het bv. vir 'n speler 'n pennie gegee en gesê: "Buy a piece of string and hang yourself." En as jy 'n man laat verbykom, sal ek die wedstryd stop en jou agterwêreld warm skop." Craven sê drie spelers het Markötter se "kunstenaarsiel aangeroer" – Japie Krige, P.K. Albertyn en Bob Loubser.

Tog het hy aan Krige, sy "Witkoppie" bo van die paviljoen af geskreeu: "Japie, jou fool jou fool, jou blooming fool." Vir Albertyn het hy laat vashou en met 'n kweperlat geslaan, met elke hou gevra: "Hoekom gee jy nie die bal vir Ebbie [Stegmann] nie?" Vir Flappie Lochner het hy selfs met sy kierie geslaan.

Verbeel jou dit vandag! Een maal het hy gebulder: "André McDonald is as kaptein voorgestel. Wie waag dit om iemand anders voor te stel?" Sy oog vir 'n speler se kwaliteit en beste posisie is legendaries en strategie was sy kos. Ek lees onlangs oor die All Blacks wat jare gelede al met skrumformasies geëksperimenteer het en dink: maar op bladsy 105 sien ek "The general scrum formation was always 3-3-2 until Mr Mark changed it to 4-4-1 and ultimately to 3-4-1".

Maar hy het ook sy kennis en werksetiek oorgedra aan spelers – soos later deur Craven versinnebeeld, terwyl hy graag gehelp het met spelers se geldelike of werksprobleme. Nie dat hy veel geld gehad het nie, maar dit was vir hom onbelangrik. Aan sy eie kinders het hy gesê: "Ek gee jul 'n goeie opvoeding sodat jul vir julself kan sorg."

Hoewel hy so passievol oor rugby was, het hy ook vir Maties eerstespan tennis en krieket gespeel. Oor Markötter se herkoms het Craven genoem dat sy vader Christoph Heinrich was, en sy ma was Mari Henriette Beuster, albei van Duitsland. Oubaas Mark was hulle derde van vyf seuns, gebore op 10 Junie 1878, en het op Stellenbosch studeer, waar hy sy diepste spore sou trap.

As afrigter was sy eerste uitstaande prestasie dat die eerste Springbok-toerspan (in 1906 onder Paul Roos) nege Maties en twee oud-Maties ingesluit het. In 1944 is hy met Rachel Maria de Waal getroud en op 16 April 1957 is die man wat gesê het dat sy politiek én sy geloof rugby was, oorlede. Sy graf is agter Coetzenburg, waar hy sekerlik steeds in die gees na sy geliefde spel kyk, en woedend raak as Maties pak kry.

Written by Francois Verster You are reading Markötter spring daaruit sy graf ... articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 15 guests online