Skip to Content

Kulturele warmte beteken empatie vir ‘die ander’, stapsgewys

Lifestyle Section - History

  historyFEB20-m

Neem 'n tree terug vir ander kulture – dis wat Madiba ons geleer het. Toe hy Betsie Verwoerd in Orania gaan besoek het, het hy ons gewys wat kulturele warmte beteken, toe hy Afrikaans met haar gepraat het toe sy hom rooibostee en koeksisters aangebied het. Hulle het buite hulle eie stereotipes getree om inter-kulturele integriteit te betoon.

 In 'n neutedop is dít wat dr. Ivan Meyer, LUR (Lid van die Uitvoerende Raad) van Kultuursake en Sport, Wes-Kaap gesê het in die pragtige ou Kaapstadse Stadsaal op 11 Februarie. By hierdie erfenisterrein het Madiba 23 jaar gelede op 'n balkon gestaan ná 27 jaar in die tronk om sy eerste openbare toespraak te lewer. As die eerste president van 'n demokratiese Suid-Afrika het hy by verskeie ge- leenthede na verskillende kultuurgroepe uitgereik, juis om grense te verbeeld en andersins, af te breek.

Hierdie balkontoespraak, sê Dr. Meyer, was die begin van versoeningspolitiek in Suid-Afrika. Daardie kulturele warmte word inderdaad weerspieël deur die woorde "Ons, die mense van Suid-Afrika, [...] glo Suid-Afrika behoort aan almal wat hier woon, verenig in ons diversiteit [...]"

En so was die 2013 Wes-Kaapse Kuns-, Kultuur-, Erfenis-, Geo-grafiese Name, Biblioteek-, Taal- en Argieftoekennings 'n viering van die diversiteit en 'n erkenning van die beskerming van die regte van elke burger – "jou kultuur is my kultuur, is ons erfenis." Aldus Dr. Meyer.

Die stadsaal was inderdaad 'n gepaste vergaderplek vir hierdie geleentheid waar die departement toegewyde en talentvolle vrywilligers uit talle terreine vereer het vir onvoorwaardelike en onbaatsugtige diens aan hulle medemens dwarsoor gemeenskapsgrense, om sodoende die kulturele landskap beide te verdiep en te verbreed.

Een van die interessanthede wat Dr. Meyer kwytgeraak het was dat een van die tradisies wat eens in dié geskiedkundige gebou gehandhaaf was, was dat burgemeesters drie-jaar termyne uitgedien het en daarna as adjunk-burgemeesters opgetree het sodat hulle opvolgers van hulle kon leer.

Die adjunkte sou ook nie probeer om die nuwe burgemeesters se poste te bekom nie – daarom geen rede vir politiekery nie. Dr. Meyer het die wens uitgespreek dat hierdie gesindheid in die nuwe Suid-Afrika sal herleef en dat die voorbeeld wat mense soos die ikoniese professor Jakes Gerwel en dr. Neville Alexander gestel het só sal voortleef. Juis daarom is onder meer die Neville Alexander Toekenning vir Veeltaligheid nou ingestel.

Onder die ontvangers van die lieflike trofee, ontwerp deur mnr. Douw Briers, Bestuurder: Museumtegniese Dienste, Departement van Kultuursake en Sport, was bekendes uit die Boland, soos Mnr. Ebrahim Rhoda en Me. Sona Buys. Hulle het onderskeidelik die Kaapse Familiegeskiedenis en Erfenis Navorsing Forum, en die Stellenbosch Museum verteenwoordig.

Instansies soos die Khayelitsha Hospitaal wat met min hulpbronne en ten spyte van groot hindernisse poog om erfenisbewustheid te bevorder, het ook erkenning verkry – wat 'n skreiende skande dat daar nie meer fondse en kundigheid beskikbaar gestel word in die verband nie; dat 'n paar inwoners van 'n gebied met 1 miljoen mense op eie houtjie in 'n museum in 'n plankhut moet byeenbring!

'n Ander inisiatief wat dalk nie genoegsaam erkenning ontvang nie, is die Wes-Kaapse Provinsiale Geografiese Namekomitee (WPKGNK) wat reeds baie gedoen het om by te dra tot inter-kulturele versoening deur onder andere te fasiliteer dat voorheen miskende persone en gemeenskappe in ons provinsie nou raakgesien en onthou word – advies aangaande naamsveranderinge soos dié van paaie en plekke buite munisipale grense word byvoorbeeld gemonitor deur te sorg dat daaroor gedebatteer word.

In die kategorie bydrae tot die standardisasie en openbare bewusmaking van geografiese name in die Wes-Kaap het professor Bertie Neethling, gewaardeerde Iid van genoemde komitee, 'n toekenning ontvang.

Terwyl ons daar in die groot saal gesit het en gekyk het na tieners wat 'n balletuitvoering doen, drie dames wat elektriese saksofoon, tjello en viool bespeel, en 'n jazz orkes, het ek vir die soveelste maal gedink oor kultuur. En dis wat ek daar sit en uitbroei het:

Kultuur is beide die uiterlike kenmerke van 'n groep mense en die innerlike oortuigings en strewes, soos deur hulle kunste, veral taal, gekommunikeer word. Die uiterlike aspekte is hoofsaaklik fisiese manifestasies van die (interne) denkprosesse wat binne spesifieke paradigmas plaasvind – dit wat bv. as toelaatbaar geag word.

En daarom is die versierings soos patrone op 'n objek soos 'n hemp of huis nie belangrik nie, maar wel die basiese waardes en die uiteindelike prioriteite van groepe, en veral hoe naby prioriteite by sulke waardes kan bly. Hoe verder die gaping tussen waardes en prioriteite, hoe meer dekadent raak die samelewing.

Soos elke regering in Suid-Afrika al bewys het: al wat regtig verskil is die uiterstes waartoe hulle toegelaat word om korrup en onbevoeg te wees. Intussen moet ons, die gewon(d)e burgers, die wa deur die drif trek. Dat dit wel gebeur, word bewys deur die mense wat hier by die jaarlikse geleentheid erkenning kry.

Mense wat nog die waardes voorop stel wat die sogenaamde wonderwerk van 1994 moontlik gemaak het. Solank daar sulke mense is, sal die gaping tussen wat ons behoort te doen en wat gedoen word nie te groot rek nie.

Written by Francois Verster You are reading Kulturele warmte beteken empatie vir ‘die ander’, stapsgewys articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 36 guests online