Skip to Content

Huis Bruynzeel is 50 jaar oud, en mooier as ooit

  history_pic-aug22-m

Daar is talle lieflike historiese geboue in die Boland, maar ’n gebou hoef nie 200 jaar oud te wees om ’n besienswaardigheid te wees nie. Ry byvoorbeeld uit Stellenbosch na Helderberg se kant toe, draai knap anderkant Paul Roos se sportgronde links en dan slap regs, en lowgear dit teen die steilte uit na Constantialaan 18.

Hier op die bultjie kyk mens na Rosie en Hans Breuer se woning, en jy verwonder jou aan die omvang, die skáál daarvan, maar ook die skoon, dog aweregse lyne van die woning bekend as “Bruynzeel House.”

Hier het ek en Vroutjie al om verskillende redes aangedoen: om data te verskaf vir Rosie se webwerf www.Stellenboschwriters.com, om ’n skildery af te lewer – ek sien met genoegdoening dit hang steeds in die sitkamer – om een aand te kom eet (en hulle opregte Noorweegse Woudkatte te kom bewonder), om een van Rosie se boeke te kom haal om te resenseer, om boeke te kom aflewer.

Hieruit kan mens aflei dat in dié huis gekultiveerde, inderdaad hoogs-beskaafde mense woon. En inderdaad is die Breuers presies só: Professor Hans Breuer is ’n voormalige dosent in fisika, eienaar van ’n firma  en skrywer terwyl sy eggenote Rosie ’n illustreerder en skrywer is. Daarom dan dat hulle ’n huis soos Bruynzeel sou kies om te bewoon – níé jou garden variety suburbians nie.

Maar, aangaande die huis: wat is die agtergrond daarvan, moes talle verbygangers al gewonder het – ook diegene wat al afbeeldings daarvan op die internet gesien het. Daarom het ek toe vir Rosie hieroor gevra en sy het, tipiese tegemoetkomende Rosie, dadelik inligting aangestuur.

Dié uitsonderlike huis is in 1962 laat bou deur ’n Nederlandse houthandelaar, Kees Bruynzeel, en hy het ’n doel daarmee gehad. Hy wou wys wat mens met hout kan doen. En daarom stel hy die jong Nederlandse argitek Aardt Bijl aan om hierdie visie te vergestalt. Bijl was ’n student van die bekende Duitse argitek Pius Pahl, wat ’n eksponent van die Bauhaus tradisie was – ’n boustyl met simplistiese, reguit lyne of geleidelike kurwes en gewoonlik nie handgemaakte items insluit nie. Dis eerder ’n viering van die wondere van die masjien; vandaar die reguit lyne.

Wel, anders as die normale Bauhaus-styl egter, het Bijl ’n saalvormige konstruksie ontwerp; die houtgedeeltes bestaande  hoofsaaklik uit kiaat: balke, panele en vensterrame, en die res is groot vensters en plat siersteenmure.

Eers is die dakbalke opgerig bo-op twee pilare, wat spoedig getoets is deur ’n hewige storm. Die dak het stewig gestaan, sy eerste toets deurstaan, en die bouery het aangegaan. Die dak terloops, is so in die mure in gepas dat die dak kan beweeg. Duidelik het dit nie te ver beweeg nie ... dis nog daar!

In elk geval, by voltooiing, sê Rosie, het die huis in 1962 (dus nou ’n halfeeu gelede) amper so ’n opskudding in die gemeenskap veroorsaak as die Eiffeltoring in 1889: die konserwatiewes het weer iets gehad om oor verontreg te voel en die proggressiewes iets om oor te filosofeer.

Argitekte en ingenieurs, sê Rosie, val in die laasgenoemde klas. Dus mense wat kreatief kan wees sonder om dagga te rook, reken ek. En blykbaar het argitekte van oor die wêreld heen die huis al kom bewonder – so gaan kyk mense oorsee na Bruins (bere) en hier kom kyk hulle vir Bruynzeel.

Al te prettig; veral neem ek aan, vir die inwoners.

Maar glo my, dis werklik ’n woonplek om oor liries te raak – die gevoel van ruimte is oorweldigend, en die verbeeldingryke uitleg met die natuurlike kleure waarmee die huis gebou is, is strelend op die gemoed.

Ook voel mens omring deur kwaliteit – die soort materiale wat deesdae ’n fortuin sal kos om mee te bou. Selfs die stene is spesiaal vir die huis gemaak, en geelhout en koperafwerking binne sal enige eienaar laat gloei van trots. Boonop is die kwaliteit van die vakmanskap eersteklas. Die elegansie van die ontwerp word verkry deur o.a. die feit dat die mure teen ’n helling van drie grade gebou is, en die slaapkamers het gegote gipsplafonne wat uiteraard nogal ’n duur proses was.

Die huis het destyds glo tien maal meer as normale woonhuise – met min of meer dieselfde voetspoor – gekos om te bou. Bereken dít in vandag se terme! Maar, reeds dertig jaar gelede het ’n Duitse gesin die huis gekoop – geheel en al oorweldig deur die huis en die uitsig daar teen die noordelike helling van Stellenboschberg.

En tereg, want soos ’n vriendin aan my gefluister het: “Hier hoef jy my nie skoppende en skreeuende in te sleep nie.” Sekerlik is oor die 50 jare niemand onder protes daar ingesleep nie – dalk net uitgesleep!

Maar ek spot – die Breuers is seker die gasvryste mense wat ek al ontmoet het. En wie sal nie wees as jy in Huis Bruynzeel woon nie? Om af te sluit: hoe liries mens ook al raak; dis iets wat jy self moet sien. Hoëresolusiebeelde van hierdie besonderse landmerk kan op www.landmarkhouse.com gesien word.

Written by Francois Verster You are reading Huis Bruynzeel is 50 jaar oud, en mooier as ooit articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 10 guests online