Skip to Content

Dank vir briewe uit die kuberruim en elders

  12.2.15-bolander-m

Wanneer mens skryf, artikels, essays, fiksie, wat ook al, wonder jy: lees iemand ooit my maaksels? En soos 'n radio-omroeper wat telefoonoproepe ontvang, is jy bly as jy 'n stem uit die duisternis hoor. Daarom, dankie vir die lesers wat telefoneer, per slakpos en e-pos kontak maak; dankie vir die belangstelling. Argivarisse kontak my uit hulle ondergrondse "bunkers", plaasmense vanaf die ooptes van die wye Boland, senior burgers vanaf Huis Herfsblare, en so aan: aan almal dankie!

In dieselfde asem moet ek bely: ek is bitter skuldig dat ek nie by almal uitkom nie – diegene wat al lank wag, voel vry om my weer te skakel, want ek het waarskynlik u adres verloor met al my rondritsery – ek hou lysies en soms verloor ek die lysies, ontdek dit weer en kontak 'n paar mense, en dan is daar weer nuwe lysies ...

Nietemin, hier het 'n interessante brief van Me Wilma Malherbe (née Theunissen) by my aangestuur deur Carolyn Frost, Bolander se redakteur. Al laas Desember. Me Malherbe vertel van die Theunissens wat op Vergelegen geboer het en van haar voorvader MW Theunissen wat saam met drie Morkels die NG Gemeente van Somerset-Wes tot stand gebring het – waaruit die hele dorp mettertyd gegroei het. Ry mens uit na die ou historiese kerk, na die grafte weerskante en agter die kerk, en jy lees die familiename daarop, tref die geskiedenis jou soos iets tasbaars. Soos iets wat jy kan ruik en proe.

Me Malherbe noem dat haar familie diep wortels in die Boland het, en takke van die stamboom heet inderdaad bekende Bolandse familiename: Malan, Meyer, Faure. Blykbaar het die eerste Theunissen van Vergelegen, Marthinus, geleef vanaf 120 jaar ná Van Riebeeck se koms tot 200 jaar later (1772-1852), en dit laat mens dink aan hoe lank die Westerse invloed al hier is, met natuurlik die Oosterse invloed (teen hulle wil bygesê) kort daarna. Die Khoi-khoi en San-verteenwoordiging is deur ondertrouery met Westerling, Oosterling en Afrikaan feitlik net tot iewers in ons gene gereduseer, maar dis nog daar en as mens die genetici kan glo, steeds daar.

Maar saam met Me Malherbe se brief is 'n opsomming van die genoemde Marthinus Aegidius Theunissen se geskiedenis. Volgens Me Malherbe was hy poshouer by die VOC buitepos Zoetemelks Valleij in die Overberg. Poshouers was in beheer van buiteposte, waar gewoonlik geboer is om die voedsel- en houtvoorrade van die kolonie aan te vul. Maar hieroor kan mens nie méér te wete kom as om dr Dan Sleigh se Die Buiteposte (laaste uitgawe 2004) te lees nie, so kom ons kyk eerder na die Theunissens, aldus Me Malherbe se navorsing.

Stamvader Marthinus se oudste seun Marthinus Wilhelmus, vertel Me Malherbe, was 'n "regte woelgees". Hy was adjudant van die Stellenbosch Burgery – die manne wat moes help as daar veebuitery en dies meer plaasgevind het, of soos in Mnr Wilhelmus se geval, gevegte teen die burgers van Swellendam en Graaff-Reinet wat wou afstig en die latere Oosgrens-konflik teen die Xhosa.

En die grootste gebeurtenis vir hom was die Slag van Blaauwberg (1806), toe hy en sy klein kommando uit Hottentots-Holland hulle sodanig onderskei het dat Generaal Janssens hom daarvoor vereer het (vir "dapperheid en trou", as die Held van Blaauwberg) met die skenking van 'n plaas in Swellendam, naamlik Bontebokskloof.

Me Malherbe vertel voorts dat dié Held glo agterstevoor op sy perd gesit het, waarskynlik om te kon aanhou skiet terwyl hy moes terugval teen die oormag. Hy het dus nie gevlug nie; net teruggeval, en ordelik ook! Boonop was hy glo 'n heldhaftige haan onder die plaaslike henne – maar trou uiteindelik met Sara Catharina Malan, dogter van Jacobus Malan (kleinseun van die Hugenoot stamvader) wat op Morgenster, langsaan Vergelegen geboer het. En so beland hy op die ou Van der Stel-plaas. Daarna spekuleer hy met etlike plase in die Durbanville-, Overberg-, Helderberg- en Swellendam-distrikte. Boonop bou hy ook heelwat – van 'n wynkelder tot 'n kerk of twee – soos die ou Kruiskerk op Caledon wat helaas in 1950 gesloop is.

Hoewel Marthinus Wilhelmus teen die Britte geveg het, is hy persoonlik na Goewerneur Somerset met die versoek dat die nuwe dorp Somerset-Wes na die goewerneur vernoem word. Hy is was mede-stigter van die kerk (gemeente) én bouer daarvan (die gebou), het resiesperde geteel, 60 slawe besit, graag viool gespeel en het, les bes, 15 kinders gehad. Op 70 het hy weer getrou en op 80 is hy oorlede – ironies genoeg was hy volgens sy testament in die Kaapse Argief (1/STB 18/23, 9) uiteindelik bankkrot! Hy is in Riversdal se kerkhof begrawe. So val die helde ...

Vir die Theunissens was dit egter einde niet: Me Malherbe noem dat sy seun, Lang Jan (Rudolph Johannes) Theunissen later as landdros van Winburg in die OVS aangestel is en sý seun, Kommandant Helgard Theunissen van Anglo- Boereoorlog-faam vereer is deurdat die dorp Theunissen in die Vrystaat na hom vernoem is.

Nou ja, die Bolanders kan wye draaie gooi en boonop dan daar hulle merk duidelik gaan maak ook. Dankie Wilma, vir dié interessante storie.

Ek het dit waardeer, veral die trots waarmee dit vertel is.

Written by Francois Verster You are reading Dank vir briewe uit die kuberruim en elders articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 59 guests online