Mense gaan op vakansie, boeke nooit nie
Friday, 10 February 2012 00:00
Die jaar is al in volle swang – kan jy glo; die eerste maand is al verby! Ons kners en kerm reeds in die loopgrawe, sug vir die vroegopstanery en kla oor die dodelike drukgang van die daaglikse rotresies ... en verlang na Desember. So hier is nog een onthou-jy-nog-die-vakansietyd-storie wat ek graag wil vertel voor die herinneringe heeltemal vervaag: ek en Vroutjie sak toe af Hartenbos toe láás Desember – was lanklaas bietjie weg; die ekonomie druk, so mens sê tog nie nee vir vryskutwerkies terwyl jy dit nog kry nie. Maar, ons voel so geëerd om na ’n Gautengse kollega (maatskappy-argivaris) se familie-strandhuis genooi te word, dat ons die buurvrou mooi vra om na ons katte te kyk. En daar gaat ons – Hartenbos or bust!
Die langpad lewer geen onaangename verrassings; nie eens padwerke op nie, en die lieflike weer word besing vandat ons aanland – die Gautengers is verheug oor die sonskyn, spog graag oor die rugby (ons probeer vergeet daarvan in die Kaap) – en ’n opportunistiese Chevrolet-handelaar sou ’n dosyn of wat eenhede kon verkoop. Verwysend na die bekende advertensie van ’n dekade of wat gelede natuurlik. En toe, soos ’n weerligstraal uit daai skoon blou lug sê my vriend Charles die towerwoorde: “Daar is ’n boekuitverkoping in die skoolsaal.” Minute later is ons daar, en seker ’n duisend boeke wag ons in. Die hele saal is vol tafels en hulle kreun onder die gewig van boeke, boeke, boeke. So baie boeke, en genoeg tyd, máár so min geld!
Selfs Deon Meyer-hulle se nuwe kookboek is daar – letterlik ’n verbysterende verskeidenheid, meesal splinternuwe publikasies. Net op die verhoog staan ’n paar verdwaalde bokse vol redelik verslete tweedehandse boeke.
Ek en Charles, ons eggenotes vergete waar hulle meer berekenend na die menu kyk (vrouens is immers gebore “shoppers”) skarrel rond soos tienerseuns wat hardloop tot by die huis van die oulikste meisie op die dorp, net om dan ’n wye draai te gooi – so ’n blok ver, om dan van ver te kyk of daar nie ’n beweging in die huis is nie. En uiteindelik wegsluip. Dis mos hoe mens voel as jy sulke lieflike boeke sien. En dan ook die pryse sien. Maar Vroutjie ken haar gade: sy kom summier nader met ’n boek. En my hoop vlam op. Paryse Dagboek (1998) van Jan Rabie, saamgestel deur André P. Brink. Net R80. Ek kán nie nee sê nie, want ek sal dit waarskynlik nooit weer raakloop nie: die bronmateriaal of fondament waarop sy beste bundel, die trefferboek 21 (1956), gebou is!
Die probleem is egter: ek het reeds ’n boek gevind wat ek wil koop, want ek wil dit hier in Bolander bespreek. Dis Stellenbosch: University Town on the banks of the Eerste River (ook 1998) deur Hérine Fourie en Philip Crouse. Eersgenoemde, wat die boek nogal voorin geteken het, het die lieflike illustrasies geskep en laasgenoemde is verantwoordelik vir die interessante woordteks. Ek voel soos Meryl Streep in Sophie’s Choice – hoe kan ek kies? Maar, soos ek sê: my vrou lees my soos ’n boek (ná amper 20 jaar ken sy al die tekens) en kort daarna stap ek daar uit met altwee boeke; R200 armer, maar op ’n ander manier veel ryker.
Fourie en Crouse se boek – sien illustrasie – dra by tot die redelik substansiële oeuvre wat al oor Stellenbosch bestaan, maar om dit is geskep om ’n vars perspektief op die “intellektuele karakter” van die Eikestad te bied. Om dit te vermag is die kennis van groot geeste soos wyle prof Bun Booyens, asook proff Gert Kruger, RH Behrens en R Otterman getap. Onderhoude is gevoer met inwoners en kundiges soos Mnr W Malherbe en Me H Jonker van die Stellenbosch Museum. Die aantreklike boekie beloop 64 bladsye waarin mens nogeens meer oor ons tweede oudste dorp kan leer en geniet. Selfs oor baie bekende name soos Lanzerac, Mostertsdrift, La Grattitude, Coetzenburg, die kerke en akademiese sentra van Stellenbosch ... en dit herinner my: sover ek weet is steeds nie ’n geskiedenisboek van Franschhoek geskryf nie! Vir ’n plek wat glo ’n besonder hoë digt-heid uiters vermoënde inwoners het, is dit werklik vreemd. Miskien ’n tema om op te neem by ’n volgende literêre feesgeleentheid?
Nietemin, 26 interessante plekke word in Fourie en Crouse se bydrae tot Stellenboschiana bespreek en akkuraat, maar kleurvol pikturaal uitgebeeld. By toekomstige geleenthede sal ek beslis nog in hierdie tekste delf – namens diegene wat nie self die boek sou teenkom, of gawe eggenote het om dit vir hulle te koop nie. En nie almal word na Hartenbos genooi nie, en nog minder sien ooit die binnekant van die skoolsaal. Veral nie drie dekades nadat hulle gematrikuleer het nie! Ja ek weet: ek is kranksinnig, maar daar is twee soorte, soos cholesterol: die slegte én die goeie soorte. Nou moet ek net my bankbestuurder ook oortuig. A, ek weet: ons kan hom Hartenbos toe nooi!
Written by Francois Verster You are reading Mense gaan op vakansie, boeke nooit nie articles
