Skip to Content

Mens leer soms iets met ’n wye draai; ín ’n koets, óór ’n berg

  FEB01-m

Laas week het ons na mites gekyk, en ek is seker 'n paar lesers het gewonder wat die verskil tussen mites en fabels is. Aangesien hierdie terme so dikwels as sinonieme misbruik word, is dit nogal 'n goeie vraag.

So, fabels: volgens die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal is fabels "verdigte vertellings met 'n opvoedkundige doel."

Fabels is veronderstel, om soos die meer as 600 verhale deur die Griekse slaaf Esopus (c.620-564 v.C.), een of ander les oor te dra – enige ander genre kan natuurlik dieselfde doen; hetsy dit 'n sprokie, essay of roman is. Maar toemaar.

Verder het ek gevind dat fabels literêr van aard óf folkloristies kan wees; Tolla van der Merwe sou dit kon vertel óf André P Brink kan dit in woordteks uitdruk. Dierefabels soos Jakkals en Wolf (ook dié in strokiesvorm deur die oud-Stellenbosser TO Honiball) is goeie voorbeelde van moderne fabels. Van "modern" gepraat, mites kom glo eintlik uit die heidense godewêreld van die antieke tye.

Fabels word dus nie juis deur 'n spesifieke tydperiode gedefinieer nie en handel nie oor gode nie, maar kan bonatuurlike elemente bevat, soos diere wat soos mense optree. Ek het onlangs in 'n koerantartikel gelees dat iemand beweer Jakkals en Wolf is in die middeleeue in Europa geskep. Verkeerd: dis veel ouer en kom oorspronklik uit die Verre Ooste. Die artikelskrywer het sodoende self 'n fabel vertel – nié 'n mite nie (geen gode betrokke!). Hoewel fabels nog steeds geskep word, word hulle selde as sulks geëien.

Deesdae kry mens ook nie meer baie boeke wat bona fide fabels bevat nie. Daarvoor moet mens eerder koerant lees, veral in verkiesingstye. Maar, grappies op 'n stokkie, soms gebeur die onverwagte mos wel ...

'n Paar weke gelede was ek by die opening van die Nel Erasmus retrospektiewe uitstalling by die SMAC-Galery in Stellenbosch en toe ek daar uitstap, half traag om die ou linkerbrein weer te laat oorneem ná die fees van kleur, lyn en komposisie – as die koue nag lug jou gesig tref, tref realiteit mens mos net so hard en onvriendelik – besluit ek om die onvermydelike nog 'n bietjie uit te stel: ek stap toe sommer in by 'n boekwinkel.

En daar binne vind ek 'n uitstekende verskeidenheid Africana. Ander werke ook, soos ek agterkom toe ek 'n groot hardeband boek optel met die titel The adventures of Baron Munchausen (die stories is gebaseer op stories deur Baron Karl F von Münchhausen). Aangesien ek voorheen navorsing gedoen het oor grootliegkarakters soos die Baron, het dit my oog gevang. Boonop is die illustrasies gedoen deur die Engelsman Ronald Searle (1920-2011 ), wêreldbekend vir sy humoristiese sketse.

Dié versameling maltrap-avonture is die pennevrug van die Duitser Rudolph Erich Raspe (1737-1793), wat self 'n avontuurlike lewe gelei het – meesal vlugtend voor die gereg oor sy gewoonte om nie sy skulde te betaal nie. En dis hoe hy in Engeland beland het, waarna sy skrywes wyer as net in Duitsland bekend geword het (dis sedert 1781 daar gepubliseer). En hier, meer as twee eeue later staan ek met 'n eksemplaar daarvan in my hand, in 'n dorp waarvan hy sekerlik nooit gehoor het nie.

Maar al was Raspe onbekend met ons tweede oudste dorp, het hy wel van ons oudste gehoor, want een van die Baron se avonture speel naby Kaapstad af. Dit is toevallig ook die eerste plaaslik-gedokumenteerde grootliegstorie aangaande Suid-Afrika, en dit gaan so: die baron het eenmaal só vinnig met sy koets oor Tafelberg gejaag dat die voertuig se wiele die boonste deel van die berg afgeskraap het – vandaar die plat vorm.

Aangesien hierdie storie egter nie plaaslik oorvertel is nie, slegs oorsee, het dit nie deel van ons volksverhale geword nie.

Maar, liewer laat as nooit: nou weet ons uiteindelik hoe ons berg sy vorm gekry het! Ek weet net nie so mooi oor die sogenaamde opvoedkundige waarde van die storie nie ... behalwe dat mens nie sommer enigiets vir soetkoek moet opeet nie?

Written by Francois Verster You are reading Mens leer soms iets met ’n wye draai; ín ’n koets, óór ’n berg articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 60 guests online