Skip to Content

Mites is nie geskiedenis nie, maar stories

  histJAN25-m

Verlede week het ek geskryf oor lees – die noodsaaklikheid van lees, wát jy ook al wil lees, maar hopelik nie nét ontspanningsleestof nie. As kind het ek fiksie bo feite verkies en ek geniet 'n lekker storie steeds, maar vind dat ek al meer feiteboeke lees en amper net fiksie lees as ek gevra word om 'n roman of kortverhaalbundel te resenseer. Daarom voel ek die drang om 'n slag weg te breek na die verbeeldingswêreld. Na die land van die regterbrein, die grenslose, die kleurvolle en die fantastiese: 'n Rebellie teen die logika ... vat so, Linkerbrein!

En dit bring ons by mitologie. 'n Akademiese artikel getiteld "Myths and news narratives: towards a comparative perspective of news"deur D Berkowitz en H Nossek (Equid Novi, 2001) trek vandag hierdie sneller: die genoemde skrywers beweer dat nuus 'n sosiale konstruksie is, en dat nuus eintlik die óór en óórvertelling van bekende stories is. Daar is glo 'n beperkte en konsekwente stel temas, karakters en morele lessies wat skakeling vind met die gemeenskaplike gelowe wat in 'n dominante ideologie geanker is.

Volgens Berkowitz en Nossek word daar vir geslagte lank nuus, selfs objektiewe en feitelike nuusbrokke oorvertel en hierdie brokke word "stories" genoem. Die joernalis gee dus sy artikel aan sy subredakteur om te kontroleer en hulle noem dié artikel 'n "storie." Dat die term "storie" in werklikheid dui op 'n narratief wat van alle waarheid ontbloot is; dus fiksie, klink nie vir hulle vreemd nie. Inteendeel, hulle is te vrek besig om spertye te haal om aan sulke dinge te dink. Akademici, daarenteen, het skynbaar meer tyd: hulle reken wanneer jy dieselfde "storie" in twee verskillende koerante lees – ons neem aan dié koerante verteenwoordig twee verskillende kulture, soos Afrikaans en Engels, dan is die verskille in die twee betrokke kulture waarneembaar.

Akademici praat dán van "mites". Want binne hierdie genoemde kulture wemel dit van (meesal) eiesoortige mites. Elke koerant sal dan stories bevat, wat elkeen weer minstens een mite bevat.

Berkowitz en Nossek beklemtoon egter dat wanneer hulle van "mites" praat, hulle nie valsheid impliseer of verwag nie – of nie gewoonlik nie. Mens sou kon byvoeg: veral nie as hulle met dieselfde mites grootgeword het nie. Want dan behoort dit moeiliker te wees om mites van feite te onderskei.

Ek het onlangs gelees van mense wat glo in die tokkelossie. Verstommend. Dink ek. Vandag. En toe lees ek weer van 'n man uit dieselfde kultuurgroep wat daarmee spot – hy vertel dat sy teddiebeer se naam Tokkelossie was en dat hy pak gekry het as hy met (sy) Tokkelossie op sy slapende ouma gespring het. Net so glo baie mense steeds in "Die sterre voorspel", hoewel dit ooglopend snert is en selfs met heidense gebruike geassosieer word, aldus Die Bybel. En dan is daar talle wat Die Bybel as 'n blote geskiedenisboek en ander wat dit as 'n versameling mites beskou. Mense van dieselfde kultuurgroep, let wel. Weereens verstommend.

Maar wat is 'n mite dan? Dit kom glo van die Griekse term "mitologia" wat verwys na "storie, toespraak, diskoers, aanhaling en studie." Die term "mitologie" word algemene gebruik sedert die 15de eeu, wat dan "die studie van mites" beteken, en die verste terug wat die woord "mities" nagespoor kon word, is 1678. Die woord "mite", wat soms met "fabel", "legende" of "allegorie" verwar word, is eerste in Latyn gebruik – ironies genoeg lank ná die Romeine slegs as deel van ons geskiedenis "voortleef," naamlik eers gedurende die 1800s.

Mites word soms wel met religie geassosieer, aangesien dit soms as 'n "heilige storie" verstaan word. Die omskrywing "storie oor gode" is egter meer aanvaarbaar vir lede van die wêreld se groot monoteïstiese godsdienste vandag. Daarom kan mites vandag vertel word sonder om aanhangers van Judaïsme, die Christendom of Islam te ontstel. Mites kan oor die bonatuurlike, soos geeste of waterslange handel, maar nie alle mites verwys na sulke (by)gelowe nie.

Ek het jare gelede aan 'n radiogesprek (Radio Weskus) deelgeneem en beide die omroeper en die ander gasspreker was "heilig"oortuig dat waterslange bestaan. Ek het liefs nie my ongeloof verwoord nie, want wie is ek om ander mense in hulle agterplaas te beledig? Dit skyn te wees dat baie mense werklik 'n behoefte het om aan die onmoontlike te glo. Die Franse filosoof Roland Barthes (1915 - 1980 ) het beweer "mites kies geskiedenis, nie andersom nie, " aangesien mites ontstaan het om historiese gebeurtenisse te verklaar. Aangesien geskiedenis nie 'n lewende entiteit is met 'n wil of 'n plan nie, het Barthes eintlik bedoel mense kies mites – waarskynlik omdat hulle nie genoegsame feitekennis beskik het nie, maar ook om stories interessanter te maak. En so is baie mites eers as historiese feite beskou. Soos dat daar gode en (bona fide) waarseërs bestaan het. Ekskuus, bestáán.

Nou ja, ek wou my verbeelding op 'n plesierrit neem, maar dit blyk dat ek weereens nie kon wegkom van my onheilige analitiese kompulsie nie. Ou Linkerbrein lag toe laaste. Ons probeer dus volgende week weer. En, is alles wat joernaliste skryf mites? Natuurlik nie! Nie álles nie ...

Written by Francois Verster You are reading Mites is nie geskiedenis nie, maar stories articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 51 guests online