Skip to Content

Is lees en leer (reeds) geskiedenis?

  histjan-18-m

Vandag, nog met die eerste paar asemteue van 2011, wil ek 'n denkbeeldige seepkissie bestyg en die rede vir artikels oor iets so skynbaar abstrak en efemeer soos geskiedenis aanroer!

Onlangs lees ek 'n insiggewende artikel oor naamgewing – nie van strate en ander plekke soos deesdae sporadies in die nuus is nie, maar van mense. Die skrywer, Christo Viljoen van Stellenbosch, is 'n genealoog en sy algemene kennis van geskiedenis het hy goed aangewend om sy stellings, byvoorbeeld waar sommige lagwekkende familiename vandaan kom, te belig. Dis 'n goeie voorbeeld van hoe vakdissiplines nie alleen kan staan nie en dus, soos mense, nie eilande kan wees nie (om John Donne skeef aan te haal).

Algemene kennis is egter 'n skaarser wordende kommoditeit, smaak dit my – as Wikipedia, met al sy gebreke nie daar was nie, wat sou baie jongmense geweet het? Hoeveel mense gaan oor tien jaar nog aan programme soos Flinkdink of Mastermind kán deelneem? Die sogenaamde "dumbing down"-sindroom is beslis geen mite nie: die vervlakking van standaarde in die onderwys, joernalistiek, mediese beroep ... noem maar op, is reeds met/op ons. As mense nie lees nie, hoe gaan hulle aan kennis kom? En as mense nie kennis het nie, hoe maak hulle ingeligte besluite?

Die punt wat ek wil maak is dat interdissiplinêre belangstelling en kennis belangriker is as wat ooit besef sal word – om te sorg vir 'n goed-ingeligte, beskaafde same-lewing (want dit lyk asof sedelike waardes alléén die onderspit delf). Die rede vir hierdie gebrek aan erkenning van so 'n ooglopende feit is tweërlei: eerstens kortsigtigheid, wat juis die produk is van oningeligtheid, en tweedens ego's, of eintlik selfgesentreerde denke.

Elkeen baas van sy/haar eie mishopie. Elkeen loop met 'n paar oogklappe en sien net wat vir eie voordeel van belang mag wees. Een professor duld nie 'n ander op sy/haar werf nie. Maar as hulle saamwerk, sjoe, dink net aan die moontlikhede. Ek weet daar is wel sulke gevalle, maar veels, veels te min.

En dit terwyl daar nog nooit tevore so 'n magdom kennis tot ons beskikking was nie. Oor die plesier in die lees van 'n boek praat ek liefs nie, eerder dan net oor die verwerwing van die soort kennis wat van ons beter burgers maak. Wat ons in staat stel om ons geskiedenis in ag te neem, maar ook die van die mensdom, wat ons insig gee in ideologieë soos kommunisme teenoor kapitalisme (lees onse Julius ooit? – houtwerk is immers nie so belangrik vir sy portefeulje nie) en ons uiteindelik bevoeg maak om te stem vir mense wat hulle keisers dien.

Leer behoort 'n plesier te wees, mense behoort gulsig te wees vir kennis, nie net vir die plesier daarvan om 'n wysneus te wees nie (waaroor anders neem mense deel aan vasvraprogramme, tog nie net vir die pryse nie, maar vir die aandag), maar om die verworwe kennis nuttig te gebruik.

Die historikus wat niks van argeologie weet nie, baseer sy/haar stellings slegs op kennis van 'n paar duisend jaar – plaaslik dalk net so 300 jaar maksimum – en mens kan wyer kyk, soos waarom mense oorlog maak: sielkunde, sosiologie en selfs soölogie kan belangrike bydraes lewer. En dit het al. Lees bv.

Desmond Morris se boeke, soos "The naked ape" ( 1967). Morris (gebore 1928) is 'n Britse soöloog, maar ook ander vakdissiplines soos antropologie, wat sy neiging om wyer te kyk onderstreep, en dis waarom hy sulke interessante vergelykings tussen menslike en nie-menslike gedragspatrone kon maak. Lees gerus sulke wetenskaplike studies saam met jou Bybel of Koran, in konteks, en neem beslis die goeie aan en verwerp die bose, maar sekerlik sal jy sal 'n veel vollediger prentjie begin sien.

Ons, as mense, se geredekawel en stommiteite lyk skielik bra nietig teenoor die enormiteit van die heelal, soos ons voorouers lankal vermoed het, van die eenvoudige skaapwagter tot die geleerde sterrekundiges in Timboektoe, Londen en later selfs Observatory, Kaapstad. Sterrekunde neem ons vandag na die buitenste ruimte van die heelal, maar ook na die verste grense van ons intellek en verbeelding. En elkeen van 'n swetterjoel ander studierigtings bied eiesoortige meganismes om antwoorde te vind. Dit is dáár, ons moet dit net benut.

Die vraag is: sal mense "boekkennis" (al is dit ook via 'n elektroniese medium) ooit na waarde skat? Nee, om na die TV-metafoor terug te keer: Flinkdink is al daarmee heen en Noot vir Noot ook, maar die kitsroem-effekte soos Idols is die nuwe Heilige Graal. Dankie tog Dan Brown van Da Vinci's Code-faam se breinterger-storietjies laat mense tog meer lees, al sê Salman Rushdie dat Brown selfs aan swak skryfwerk 'n slegte naam gee.

Helaas, musiek en al die kunste is wat pragtige kleur en klank aan die lewe gee, maar dit los nie probleme op, soos om aan meer as die helfte van ons bevolking werk te verskaf nie.

Dáárvoor het jy kennis én kreatiwiteit nodig, maar veral tegniese kreatiwiteit; die soort wat die Einsteins en die Edisons gehad het. So, "go figure" – en dalk gaan daar iewers 'n liggie aan, almal wat "boekgeleerdheid" nou nog minag. Mag 2012 nuwe geleenthede bied.

En mag ons hulle aangryp - nie net die eerste week van Januarie nie.

Written by Francois Verster You are reading Is lees en leer (reeds) geskiedenis? articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 35 guests online