Skip to Content

Franschhoek uit ’n ander hoek bekyk

  hist2JAN12-m

Met die instroming van binnelanders hierdie tyd van die jaar en skerp toename in belangstelling in die Kaapse wyne en brandewyne, het ek self met belangstelling die onlangse artikel deur die kuns- en kultuurkenner Melvyn Minnaar oor Franschhoek se wynbedryf gelees. Tereg merk hy op dat dit nie die Franse Hugenote (tussen 1688 en 1690) was wat die wynbedryf begin of (alleen) gevoer het tot die hoogte wat dit mettertyd sou bereik nie.

 Dit was Jan van Riebeeck wat die eerste wingerdstokke kom plant het kort ná sy aankoms, ruim dertig jaar voor die Hugenote – hoewel van sy pogings min gekom het – die grond was nie geskik nie en dit sou met latere uitbreiding na die Boland vermag word, soos deur Simon van der Stel na Stellenbosch, Franschhoek en die Paarl-omgewing. Maklik was dit nie, want die bedryf sou deur o.a. plae getref word, soos die on-Bybelse plantluis Phylloxera Vastatrix, wat byna ons wynbedryf gedurende die 1880s vernietig het (die luise is reeds op Januarie 2, 1886 hier ontdek).

Die Kaapse Landboudepartement, gestig in 1887, het heelwat gedoen om die wynbedryf te bevorder, en die invoer van landboudeskundiges soos die Duitser Baron von Babo, en die stigting van landbouskole (soos Constantia en Elsenburg), was beslis stappe in die regte rigting. Von Babo se opmerking dat daar baie ruimte vir verbetering was wat gehalte betref, was nie bloot Teutoniese hoogdrawendheid nie. Ons wyne het geen watwonderse reputasie gehad nie en min aftrek gekry op die oorsese markte.

Veral ons brandewyn was swak – die berugte Cape Smoke is so genoem weens die onsuiwerhede daarin, en in 1887 is in plaaslike koerante berig dat die wynbedryf in 'n verknorsing was. Verslae van nuut-aangestelde landbou-deskun-diges het hierdie mening onderstreep, soos in die Kaapse Argief se groot en volledige reeks geskrifte hieroor gesien kan word. Ten spyte van die verdoemende siening van buitelandse kenners, was daar heelwat optimisme oor die toekoms van ons wynbou, en hierdie mening is as korrek bewys.

Voorligting aan boere en veral die inenting van Kaapse wingerdstokke op Amerikaanse onderstokke, was waarskynlik die keerpunt in die stryd teen Phylloxera. Teen 1909 is die gevolge van die plaag, asook 'n ekonomiese depressie, te bowe gekom en het die Kaapse wyne 'n goeie naam begin kry. Belangrike werk is hierna gedoen deur dr. AI Perold, die staatswynboukundige, terwyl verskillende komitees aangestel is om die bedryf te ondersoek, buitelandse kenners is ingevoer om verslag te doen oor tekortkominge, en jong boere is oorsee gestuur om kennis op te doen.

Wat die brandewynbedryf betref; dié produkte was bekend vir die oormatige suiker- en alkoholinhoud en die lae pryse wat dit behaal het, het veroorsaak dat dit teen 'n verlies geproduseer is. 'n Geleidelike opbouingsproses was nodig om dit te lig uit die moeras van obskuriteit waarin dit gedurende die laat 19de eeu verval het. Dié proses het begin reeds nadat die Tesourier van die Kaapkolonie in 1887 'n ondersoek geïnisieer het. Daar is bevind dat veral 'n gebrek aan wetenskaplike kennis oor die distilleringsproses 'n knelpunt was. Om 'n ommekeer te bewerkstellig was egter geen geringe taak nie. Dit sou etlike dekades duur voordat ons met produkte kan spog sonder 'n knippie sout en net 'n bietjie ys.

So ja, die Hugenote het beslis 'n noemenswaardige bydrae gemaak, maar dit was meer die residu van hulle Fransheid as hulle kundigheidsimpak op die wynkultuur op sig self. Soos Minnaar opmerk in sy artikel is die name van instansies en plase – van hulle ook effe pretensieus – 'n aangename herinnering aan die Franse flair wat die Boland op vele terreine verryk het. Baie Hugenote was nie boere nie en was nie lank by die landboubedryf betrokke nie, maar dié wat agtergebly het, het wel gehelp om die grondslag vir verdere ontwikkeling te lê. Vandag gaan ons wyn- en brandewynmakers van krag tot krag en neem die buiteland deeglik kennis van Suid-Afrika. Ook die bra snobistiese Franse, wat skynbaar al vergeet het van die sogenaamde Émigrés (of Refugiees in Nederlands) wat hierheen uitgewyk het.

Wat Franschhoek betref, is daar boonop die Franse name en Bastilledag-vieringe, die name van plase en besigheidsinstansies, maar ook die bedrywige nasate wat verseker dat die Hugenote nooit vergeet sal word nie. Altans nie hier onder in Afrique du Sud nie.

Written by Francois Verster You are reading Franschhoek uit ’n ander hoek bekyk articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 33 guests online