Die Carnegie nalatenskap
Wednesday, 16 November 2011 00:00
Soos laas week genoem, kyk ons hierdie keer na die geskiedkundige verbintenis tussen die Carnegie Stigting van New York en die Stellenbosse Universiteitsbiblioteek. Andrew Carnegie (1835-1919) was ’n Skotse filantroop wat as kind na die VSA geïmmigreer het. Die gevolg van sy visie vir beter opvoedingsgeleenthede is verreikend en dit sluit in meer as 2500 Carnegie-biblioteke in Europa, die VSA en lande soos Suid-Afrika en Australië.
Carnegie het geglo dat mense wat hulself wil verbeter, dit met behulp van biblioteke kan doen. Vandag dra die Internet uiteraard ook by tot kennisverryking, maar akademiese inligtingsentra soos die vroeëre Carnegie en huidige Gericke Biblioteek is steeds spilpunte van intellektuele ontwikkeling.
Die Carnegie Korporasie (in 1911 deur Carnegie gestig) se betrokkenheid in Suid-Afrika het begin in 1929, toe opdrag gegee is om die armoede kwessie hier te ondersoek. Soos ek in ’n vorige artikel genoem het, het die befaamde MER (Maria E Rothmann, 1875-1975) die VSA besoek, juis om daar te leer oor hoe hulle armoede bekamp het. Carnegie het ook hierheen uitgereik en in Suid-Afrika is navorsing hieroor gedoen, en die regering het positief daarop gereageer, in die dertigerjare en weer in die tagtigerjare van die vorige eeu, hoewel sonder om genoeg aandag aan swart armoede te skenk.
Staatsbiblioteke in Suid-Afrika het sedert 1933 hulp van die Carnegie Korporasie ontvang, wat weer gelei het tot biblioteekdienste in plattelandse gebiede en die land se eerste biblioteekskool by die Universiteit van Kaapstad in die 1930s.
Stellenbosch se verbintenis met Carnegie strek selfs vroeër terug, toe Carnegie persoonlik hulp aan die Victoria Kollege aangebied het in 1907 en die eerste skenking in 1912 ontvang is om die destydse C.L. Marais Biblioteek uit te bou. Talle verwikkelinge het daarna plaasgevind, maar in 1938 het die Carnegie Biblioteek verrys op ’n ou rugbyveld: Stellenbosch se twee vernaamste prestasiepunte, rugby en akademie, in een asem ... en die “nerds” wen, wel, dié slag.
Vir ongeveer ’n halfeeu het hierdie biblioteek die universiteit bedien, met periodieke uitbreidings, terwyl die Korporasie deurentyd skenkings van boeke, plate en kunsafdrukke gemaak het en in die tagtigerjare toe die uwe vir akkers gekoes en vir meisies gebloos het (darem ook geswot en kamma rugby gespeel), is die nuwe, ondergrondse biblioteek gebou. Ek onthou hoe ons deur modderige gangetjies gestap het, veral na die Geografie departement net langs-aan en hoe die stootskrapers en lorries en laaigrawe doer onder gegrou en gebou het.
Die nuwe biblioteek is vernoem na JS Gericke, wat sy lang diens aan die universiteit as Vise-Kanselier afgesluit het. Hierdie (toe) moderne ruimtes het die karaktervolle, maar beknopte Carnegie Biblioteek, nou hoofsaaklik ’n administrasieblok, vervang. Aanvanklik het ek nogal die ou biblioteek gemis, veral omdat ek skielik nie meer geweet het waar alles was nie, maar mettertyd pas mens aan en waar ek in 1980 my studies in die ou biblioteek begin het, het ek dit in 2010 in die nuwe een afgesluit. Met heelwat nostalgie en dankbaarheid, soos ek seker is duisende ander Maties ook ervaar het.
Nuwe inisiatiewe en projekte en tegnologie is hier uitgetoets en die Carnegie Korporasie het bygedra oor die jare, soos nou onlangs weer met die skenking van $2500 miljoen waarmee die tweede fase van ’n nuwe navorsings ondersteunings model deur akademiese biblioteke aan hulle onderskeie gemeenskappe. Oor dié nuwe navorsingslokaal, ’n rekenaarfasiliteit en opleiding van biblioteekpersoneel is verlede week berig. Ander inisiatiewe soos die HOOP-projek (essensieel ’n ge-sprekreeks oor Afrika-kwessies) vind ook baat by befondsing deur die Korporasie, wat hopelik sal sneeubal tot nog voordele aan die groter akademiese gemeenskap en almal wat by hulle vaardighede kan baat vind.
Die Carnegie Korporasie vier vanjaar sy honderdjarige herdenking deur die onverpoosde toewyding deur sy stigter in herinnering te bring. Hier in die geografies verafgeleë Suid-Afrika word Uncle Sam nie altyd gerespekteer nie, maar in Stellenbosch kan ons beslis ’n glasie op Uncle Andrew lig. Selfs iets so on-Bolands soos ’n Famous Grouse ter ere van sy Skotse wortels.
Written by Francois Verster You are reading Die Carnegie nalatenskap articles
