’n Verblydende stap geneem deur twee ou vennote
Wednesday, 09 November 2011 00:00
An die einde van my laaste jaar as voltydse student op Stellenbosch (op ’n Berg- en Toerklub staptoer) hoor ek ’n pas afgestudeerde ingenieur spog “Ek het in my hele lewe nog geen enkele boek gelees nie!” En hoe hard ek ook al probeer gaaf wees jeens dié wat glo dat rekenaars alles is, is dit dalk steeds die domste ding wat ek ooit gehoor het.
Want ’n lewe sonder boeke kan ek my nie eens verbeel nie. En sonder biblioteke, sal – hopelik gebeur dit nie gou nie – min boekeversamelings bestaan. Of dan: georganiseerde, toeganklike versamelings. Die soort bronne wat bona fide studente gebruik. Want, volgens onse ingenieur, nie álle studente nie. Maar meeste, en “meeste” beteken tog “honderdduisende”. Op Stellenbosch alleen was ’n ware leërskare wat eers tussen die ou Carnegie Biblioteek en toe sy opvolger die Gericke, se rakke rondgedrentel het.
Hoeveel aande het ek nie in Victoria Laan oor boomwortels gestruikel met ’n stapel boeke nie, altyd haastig om my skatkissies se deksels oop te maak. Want geld is nie die grootste kommoditeit nie; kennis is. Met kennis kan jy geld máák, en ook sónder geld – meer my eie ervaringswêreld – intense genoegdoening ervaar. Dit maak my angstig én treurig om te dink soveel mense het dit nooit ervaar nie, en sal ook nooit.
Daarom was dit interessant, en verblydend, om te hoor dat daar op 18 November ’n nuwe lokaal, die Carnegie Navorsingsruimte ingehuldig is in die Gericke Biblioteek. En weer met ’n groot skenking van die Carnegie Korporasie van New York (hulle eerste skenking was in 1912 aan die Victoria Kollege), na wie die oorspronklike biblioteek, en die nuwe area nou vernoem is. Dié lokaal is een deel van ’n projek bestaande uit drie komponente: die lokaal self (vir nagraadse studente en dosente) en ’n navorsingsportaal waar genoemde elite groep toegang tot soekhulpmiddele geniet. Verder sal ’n kader van vaardige, kundige navorsingsbibliotekarisse opgelei word om diens van ’n hoë standaard by verskillende inligtingsentra te lewer.
Die standaard van ondersteunende dienste in biblioteke en argiefbewaarplekke (ook museums) in Suider Afrika is werklik ’n bron van kommer en duidelik toon die universiteit die nodige visie en neem dit leiding in die regte rigting. Veral staatsinstansies toon tans ’n agteruitgang wat dienslewering betref – biblioteke en argiewe steier behoorlik onder hierdie aanslag. En om dan boonop van o.a. leerlinge wat (meesal) ondergemiddelde skoolopleiding ontvang het te verwag om die uitdagings van ‘n universiteit te oorkom, is bloot onrealisties.
Inderdaad moet al ons studente die beste moontlike hulp kry by biblioteke; indien nie, sal hulle bitter swaar hê. Veral nagraadse studente, want dis wanneer mens onafhanklike navorsing begin doen en lang ure alleen werk, wanneer insig en deursettingsvermoë tel. Ja, selfs al is jy die produk van goeie skool-opleiding. Verbeel jou dus die teenoorgestelde. Ek sidder. As skolier, student, onderwyser, navorser en argivaris kan ek uit ondervinding praat: elke bietjie hulp is goud werd.
Toe ek as eerstejaarstudent in 1980 by die Carnegie Biblioteek ingestap het, was ek geïntimideer deur die vreemdheid en omvang van alles, al was ’n biblioteek per se geen nuwigheid vir my nie. En dán waardeer jy elke glimlag en elke bietjie leiding. Drie jaar later was ek steeds ’n bra onsekere besoeker en ek sal nooit vergeet hoe Niel Henriksz, wat steeds in die huidige Gericke Biblioteek werk, voorgestel het dat ek my Honneursopstel oor die Hitler Dagboeke doen.
Hy het my reguit na die bronne geneem en ek kon gevolglik ’n werkstuk inhandig wat ek vandag nog bewaar en al etlike kere gebruik het as voorbeeld van hoe bronnekritiek toegepas kan word. My verbintenis met Stellenbosch Universiteit is nou reeds 31 jaar en die biblioteekpersoneel het vir my baie beteken, soos Hanna Botha en Marleen van Wyk, wat sekerlik ook duisend-en-tien ander rondkrappendes te hulp gesnel het.
Nee, sonder sulke uiters professionele en hulpvaardige connoisseurs van die dokument en boek, mikrofilm en rekenaar, wat sáám met die navorser in die loopgrawe veg, is die stryd teen onkunde verlore. Daar is geen pryswoorde wat hierdie mense waardig is nie, en die US kan nooit sy plig versaak om hulle in hulle werk te onderskraag nie. Dis ’n riem onder die hart om te sien die rigtinggewers besef dit terdeë.
Volgende week vertel ek oor die gedeelde geskiedenis van hierdie biblioteek en die Carnegie Stigting.
Written by Francois Verster You are reading ’n Verblydende stap geneem deur twee ou vennote articles
