Skip to Content

Sekere miskonsepsies aan Wellington

  wellington-m

Soos verlede week genoem, het ek weer ’n slag deur SESA geblaai en op ’n gedeelte oor Wellington afgekom. Hierdie volume van die Standard Encyclopaedia of Southern Africa (vol. 11) het in 1975 verskyn en dis altyd interessant om te sien wat die mense destyds te sê gehad het. Volgens die outeur van hierdie stuk, slegs aangedui as C Potgieter, was Wellington die hoofdorp van die distrik met dieselfde naam, 72 kilometer per spoorlyn noordoos van Kaapstad, op die hooflyn na die binneland.

Die hoogte bo seevlak is 98 meter en die bevolking, soos in 1970 getel (dus 40 jaar sedert die huidige sensus) het as volg daar uitgesien - bruin: 9 683, wit: 6 285, swart: 840, Asiaties: 26. Tien jaar tevore was daar 6 600 bruin, 3 769 wit, 1 269 swart en 20 Asiatiese inwoners. Terwyl die aantal Asiërs in een dekade dus met slegs ses mense toegeneem het, het die swart (of soos hulle dit gestel het “Bantoe”) getalle met 429 afgeneem.

Mens kan aanneem dit het met wetgewing te doen gehad, hoewel trekarbeid natuurlik ook destyds ’n groot rol gespeel het. Wat hierdie verskynsel betref kan lesers gerus die Lwandle Trekarbeid Museum (40 kilometer van Kaapstad, suidoos daarvan) besoek, wat fokus hierop, veral op die gebiede aanliggend aan die Helderberg vallei.

Maar terug na Wellington: die skrywer begin by die Hugenote wat tussen die Bergrivier en die Drakensteinberge begin boer het in 1688. Vir baie mense is die 17de eeu te lank gelede om eens te begryp – ek hoor by ’n vriendin sy was by die Kasteel in Kaapstad en dis net “1800” voor en “1900” agter en ek dog by myselwers: die antie het nie te veel gekliek oor wat die gidse vertel het nie, of die gidse was dalk dronk.

Van wat mens deesdae lees oor Robbeneiland se gidse is laasgenoemde ook moontlik. Nietemin, dis nogal ’n probleem – of twee probleme: eerstens is die gidse nie al te waffers nie en tweedens kan mense nie verstaan hóé anders dinge was drie of vier eeue gelede nie. Ek dink dis nogal ’n belangrike bydraende faktor vir die wanbegrip en wantroue onder mense in hierdie land. Mens hoor dikwels hoe onbetroubaar handboeke tevore was, maar intussen word nuwe mites geskep en gepropageer. Ook in handboeke.

’n Voorbeeld van hoe dinge kan skeefloop is die regering se houding jeens die pers – Zapiro het onlangs ’n spotprent geteken van Verwoerd wat inligting wou verdoesel en nou teken hy die huidige staatshoof wat dieselfde wil doen: hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde.

Só sê ons graag. Dog, die geskiedenis werk in siklusse – die mensdom vind dit duidelik moeilik om ’n balans te handhaaf; ons dwing eerder eers te veel die kant toe en oorkompenseer dan daai kant toe.

En al te dikwels is ons bo van die baaiesukkel af, soos my oupa sou sê. Dit gaan hoofsaaklik oor tydsgees – een ding lei tot die volgende en so pas mense ook hulle sienings daarby aan, reg of verkeerd. Toe die wit nedersetters in die Drakensteinvallei gevestig is, het ’n nuwe bestel begin. Vandag sien ons die gevolge daarvan.

Dit is deels die gevolg van die epidemies wat die Khoi grootliks uitgewis het – wat ons vorige staatshoof die grootste volksmoord (“genocide”) in ons geskiedenis genoem het – darem nie; ek dink nie daar was al biologiese oorlogvoering daardie tyd nie! Sien wat ek bedoel met begrip vir hoe dit was eeue gelede? Dat dit wel beteken het dat die sosiale struktuur van die Khoi vernietig is, met militêre konflik en ander invloede wat ook ’n rol gespeel het, is beslis waar.

Ja, daar was ook baie ontwikkeling, paaie is byvoorbeeld mettertyd gebou – dis nie waar dat ’n infrastruktuur reeds bestaan het toe Van Riebeeck hier gekom het nie, al het ’n vorige minister so beweer... maar ontwikkeling het ook ’n prys. Baie wild en inheemse plantegroei is daarmee heen, nes die oer-oue lewenswyse van die mense wat toe reeds hier rond was vir ewig weg is.

Die heer Potgieter, skrywer van dié  gedeelte in SESA, verwys na die ontstaan van instansies soos die beroemde Hugenote Kollege, en met trots.

Ek blameer hom nie; dit is wat mense destyds as vooruitgang beskou het. En as mens mooi daaroor dink, ís dit ook, en is vooruitgang in elke geval onafwendbaar. Wat my betref is enige instansie wat kennis en opvoeding aanbied beslis ’n manifestasie van vooruitgang.

So lank ons onthou om ’n balans te handhaaf. En dís waar die sosatie in die vuur val ...

Written by Francois Verster You are reading Sekere miskonsepsies aan Wellington articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 45 guests online