Herinneringe wat bly spook
Friday, 18 November 2011 00:00
In ons agterplaas is ’n klein grasperk om die bruine van gestrooide en vergruisde baksteen, die pergola se verniste latwerk en die ou sonverbleikte spoorweg-sleepers in die braaihoekie te breek. Die katte geniet ook die gras, veral as dit begin lank raak, wat nogal gereeld gebeur.
Maar hulle gunsteling kolletjies is die bosse kappertjies wat nogal welig rondom die bome groei. Daar duik hulle baldadig in om vandaar af hulle hinderlae op mekaar uit te voer. Iris, die pikswarte, sien mens die maklikste, want sy is ’n donker kol teen die groen en helder oranje van die plantgewas. En daardie oranje herinner my telkens aan ’n effens rooier blommetjie wat mens weer aan iets ánders herinner: die Papawers van Vlaandere (en omgewing).
En daarom haak ek vas by ’n kort beskrywing van Suid-Afrikaanse deelname aan die Eerste Wêreldoorlog in die Standard Encyclopaedia of Southern Africa, Deel 11, 1975. Ek was op soek na iets oor Wellington, maar dit sal moet wag, want Wapenstilstandsdag was op 11 November en hopelik nog vars in ons lesers se geheue. Baie lesers het dalk op die TV-nuus gesien hoe mense met strak gesigte kranse by monumente lê. En gewonder waaroor die bohaai gaan.
Vir die ouer mense het dit betekenis – die herinneringe eggo nog soos die sarsies wat afgevuur word by grafte en herinneringsmure. Vir baie van ons is ons sogenaamde Bosoorlog (1966-1989) relevant en vra ons onsself af waarom en wie moet die skuld dra en so voort. Vir die Amerikaners was daar die Viëtnam-oorlog (1964-1973), en meer onlangs Afghanistan (sedert 2001), en so meer.
Die Yanks was natuurlik ook betrokke by beide Wêreldoorloë (1914 – 1918 en 1939 – 1945) en Papawers behoort vir hulle meer te beteken as vir ons. En soveel net meer die mense wat die oorlog op eie bodem ervaar het nie – soos die Franse en Duitsers en ek dink hier aan nasies wat ver weg van hulle vaderlande gaan veg het. Gedurende die Bosoorlog het Suid-Afrikaners tot in Angola geveg en gedurende die Eerste Wêreldoolog ook in Namibië (toe Duits Wes-Afrika) en verder noord, tot in Europa.
Danksy veral die getalle-oorwig vir eens aan ons kant, kon ons troepe die Duitsers maklik uit Duitswes verjaag, en daarby gaan ek nie nou vertoef nie. Dis daai papawers ... die simbool van dood en opoffering waaroor ek wil skryf. Ten spyte van selfs ’n rebellie deur ’n deel van die bevolking wat toe twaalf jaar gelede teen Brittanje geveg het, het die jong Unie van Suid-Afrika (toe net vier jaar oud) vier bataljonne vrywilligers na Frankryk gestuur om Britse magte daar te versterkteen Duitsland.
Hierdie vrywilligers het meesal uit die destydse Kaap, Natal, Oranje Vrystaat, Transvaal en Rhodesië gekom en was 5800 man sterk. In November 1915 het hulle in Brittanje aangeland en met opleiding begin. Gou is hulle na Egipte gestuur waar die Turke (aan Duitsland se kant) opstande georganiseer het om die Suezkanaal te beset. In Januarie 1916 het ons manskappe in Aleksandrië geland. Die gevegte was gou oor en in April is hulle weer in Frankryk.
Op daardie stadium het hulle seker nog gedink die oorlog is ’n avontuur waaroor hulle die jong dames in Suid-Afrika kan vermaak met hulle terugkoms. En toe kom die Slag van die Somme rivier, en tussen 14 Julie en 3 September 1916 sterf 2815 mense in ’n bos naby Longueval in Frankryk. Hierdie slagting was een van talle gedurende die Eerste Wêreldoorlog, maar dit het die verbeelding aangegryp soos geen ander gedurende die oorlog nie.
Teen die einde van die oorlog het 12 452 Suid-Afrikaners gesneuwel, waarvan 8 551 wit, 3 192 swart en 709 bruin was, laasgenoemde lede van die destydse Kaapse Korps.
Foto’s van die verwoeste bos is reeds ikonies in militêre geskiedenis – die dun, swartgebrande boomstompe steek soos verkoolde vingers wat vergeefs na die grys lug gryp, en toe vir ewig in die kameralens verstar het. Die rede vir die verbete geveg was dat die stellings behou moes word om te keer dat die Duitsers die Geallieerdes se regterflank kon aanval en hulle dan van twee kante kon bestook.
Delville bos was dus van groot strategiese belang en uit dié oogpunt was die lewensverlies geregverdig. Altans, destyds is só daaroor gedink.
Vandag weet ons niks van oorverdowende ontploffings en vergruisde ledemate wat in die modder lê en vergaan nie. Terwyl ek kyk hoe die katte so kommervry rondskarrel tussen die plante verbeel ek my die suurlemoenboom is ’n hoof-
kwartier en die berkebome tussen die twee olyfbome dui die gevegslinies aan.
Maar hier bly dit doodstil, soos Erich Maria Remarque dit gestel het dis “Aan die Westelike Front, alles stil.” Ook so aan ons noordfront of “Grens”, ná drie dekades.
Dit sou tydens die Amerikaanse Vryheidsoorlog (1861-1865) wees wat generaal William T. Sherman die stelling “war is hell” gemaak het. Wat herinner aan die gedonder van kanonne en bomme en gille en skote en gekerm van gewondes, en weer wys dat alle oorloë uiteindelik dieselfde is.
Ironies genoeg lyk hedendaagse foto’s van Delville bos so vreedsaam soos my agterplaas. Maar ek sal vir geen geld ter wêreld een nag alleen dáár gaan deurbring nie. Nie eens saam met my vier vreeslose Ninja-katte nie.
En met alle respek aan die dooies.
Written by Francois Verster You are reading Herinneringe wat bly spook articles
