Skip to Content

Braak en Labirint: wat nie doolhowe is nie, is poorte

  labyrinth-m

Elwe en selwe, selwe en elwe – is die leuse van 2011 se Woordfees. Die verbeelde én die werklike wêrelde waarin ons almal leef is ter sprake. ’n Labirint is ’n metafoor hiervan; van interne bevryding, maar in die oopte en ook kan dit meer as jou psige beïnvloed. Labirinte is eeue-oue konstruksies, wat soos doolhowe,  ’n uitdaging kan bied, naamlik dat jy as’t ware instap om jou eie monster te ontdek; reg in die hart van die spiraalvormige struktuur.

Maar waar jy dalk nie weer uit ’n doolhof mag ontsnap nie, is labirinte eintlik meer ’n fisiese manifestasie van wat in jou kop aangaan. Miskien is daar ’n mitiese, bul-agtige gedrog wat jou wil verslind, of dalk ontdek jy Nirvana daar binne, wat dit ook al vir jou mag beteken.

Of jy in elwe (of feetjies soos Dalene Matthee) glo, of is jou self/ selwe, dis jou keuse as vrye individu.

Met hierdie verwagtinge het ek en my metgesel op 10 Maart by Stellenbosch se Braak opgedaag. Die aandskemer het begin om haar grys mantel oor die dorp te sprei en talle mense het rondgedrentel, balle geskop en uitgelate rondgehardloop, selfs gekarfoefel op kombersies.

So uiteenlopend as die karakters wat teenwoordig was, so groot was die verskeidenheid aktiwiteite wat bedryf was.

Ongeveer in die middel van alles was ’n ongewone gesig: dié van honderde kort stokkies, in ’n soort spiraal gerangskik en buite om met materiaal in diep, geil rooi, afgebaken.

Dit was ’n tydelike labirint; nie soos gewoonlik in sand of met klippe gebou nie, maar eerder aangedui met ongeveer liniaallengte penne.

By die ingang het Terry de Vries, die ontwerper daarvan, en drie ander dames gestaan. Terry het al 20 van die sowat 200 labirinte in Suid-Afrika gebou en het kortliks vertel wat die doel van die struktuur is en wat die geskiedenis daarvan is.

Hierdie strukture het oorspronklik  religieuse gebruike gehad – aangaande oeste, geboortes, visvangekspedisies: dus kommunikasie met die gode; om hulle seën te vra. Later, tydens die Kruistogte het diegene wat nie fisies na Palestina kon gaan nie, labirinte as simboliese togte gebruik – só is solidariteit met Kruisvaarders betoon, al was hulle derduisende kilometers ver.

Maar vandag kommunikeer mense nie meer met die gode nie. Hoewel daar ’n mistieke element teenwoordig is, word labirinte eerder benut vir interne “kommunikasie” of “beweging.”

Hoe jy dit aanwend is baie persoonlik, na gelang van jou be-hoeftes: sielkundig (bv. teen dep-ressie), medisinaal (dit laat glo die bloeddruk daal), spiritueel (om nader aan die Skepping te kom).

Vir kunstenaars is dit ’n hulpmiddel om kreatiwiteit te stimuleer: die linkerbrein word gesus sodat die regterbrein tot sy reg kan kom.

Met hierdie kennis gewapen is ons een-een stadig en in stilte die labirint in. Mens loop kloksgewys (vir linkshandiges mag dit vreemd voel, verneem ek, want hulle neig andersom) na die middelpunt. Stadig.

Bewus van die medereisigers voor en agter jou. Later is hulle egter al hoe meer op die agtergrond van jou bewussyn. So ook die ander mense verder weg.

Ek het gedink aan hoe ons stadig met vaste tred op ’n vaste baan beweeg, amper soos hemelliggame, dele van die kosmos, in der ewig-heid so.

En hoe elkeen wat daar op die Braak was daardie aand iewers op sy/haar lewensbaan was, in tyd en fisies of geografies, tydens daardie paar oomblikke. Baie verskillend, maar tog aan mekaar verbind, vasgevang soos visse in ’n ronde glastenk. Dit het gevoel as ons, wat so stadig geloop het, in stadige aksie beweeg, terwyl die mense binne ons gesigsveld vinnige en vryer beweeg, maar minimaal so.

In die middelste ruimte het ons stil gestaan en Terry het die simboliek van dié fase van die reis verduidelik. Vir elkeen het dit verskillende betekenisse en waardes. En dit sal elke maal wanneer mens deur ’n labirint beweeg, anders wees.

Dan beweeg almal weer stadig uit – dis asof ’n spiraalveer wat geleidelik opgewen was, weer langsamerhand verslap word.

Buite die labirint het ons elkeen vertel wat ons gewaarwordinge was, en in die koel aand verdwyn.

Lesers wat meer oor labirinte wil uitvind, kan die webwerf www.rainbow-labyrinths.co.za besoek.

Written by Lifestyle You are reading Braak en Labirint: wat nie doolhowe is nie, is poorte articles

Distribution
View a complete list of the Bolander Property distribution points. Click Here...

Who's Online

We have 53 guests online